Kry jy al gereelder op vreemde tye hooikoors of ‘n ander allergiese reaksie? Die rede is dalk die klimaatkrisis.
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Ai, die alewige loopneus, genies, jeukerige oë of hoofpyn. Dis niks ernstigs nie – geen griep of gevaarlike virus nie – maar al weer hooikoors.
Dit voel of jy dit deesdae ál meer kry, en ook nie meer net op die tye wat dit jou vroeër jare oorval het nie.
Kan dit wees dat jy sowaar deesdae gereelder daarmee sukkel?
Ja, meen sommige kenners – en ook dít is een van die gevolge van die klimaatskrisis. Want die wêreld se veranderende weerpatrone het nie net ‘n reuse-impak op die natuur nie; dit het ook ‘n uitwerking op ons gesondheid, meen kenners.
En anders as die COVID-19-pandemie wat die wêreld tans verlam, maar hopelik eindelik sy wurggreep sal verslap, kan hardnekkige hooikoors en ander allergieë wat langer pla dalk hier wees om te bly.
Lugbesoedeling
“Respiratoriese allergieë, maar eintlik allergieë in die algemeen, is aan die toeneem,” sê die pediater dr. Thulja Trikamjee, ‘n allergiespesialis verbonde aan die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg.
Sy skryf dit toe aan ons immuunstelsels wat swakker raak omdat ons nie meer net natuurlike, skoon lug inasem nie, maar weens lugbesoedeling meer onnatuurlike gasse en rook inasem.
“Dit dra daartoe by dat ons lugweë meer geneig is om reaktief te wees,” sê sy. Boonop kan skielike temperatuurveranderings wat nie by die gewone seisoene inpas nie ons lugwegstelsel omkrap.
Ook dié temperatuurveranderings kan verbind word met die klimaatskrisis, sê sy.
“Mense wat reeds met allergieë sukkel, kan dan ook as gevolg van dié irritasie simptome soos ‘n loopneus of sinusdrup ervaar,” sê sy.
Stuifmeel
Stuifmeel is ‘n groter probleem wanneer dit in die lug is as wanneer dit op die grond lê; daarom kry mense met ‘n stuifmeelallergie, oftewel hooikoors, so swaar op winderige dae, sê Thulja.
Met dié dat temperature hoër raak weens aardverwarming, bly die stuifmeel langer in die stygende warm lug. Stuifmeeltellings verwys na die getal mikroskopiese stuifmeelkorrels wat op ‘n gegewe tyd op ‘n gegewe plek beland.
Verskeie soorte stuifmeeltellings van gras, bome en onkruid word weekliks met behulp van sporevangtoestelle op geboue se dakke in sewe van Suid-Afrika se grootste stede (Johannesburg, Pretoria, Durban, Kaapstad, Port Elizabeth, Bloemfontein en Kimberley) gemonitor en op die webtuiste http://www.pollencount.co.za gepubliseer, sê prof. Jonny Peter, hoof van die afdeling vir allergologie en kliniese immunologie aan die Universiteit van Kaapstad se longinstituut.
Stuifmeeltellings was in die verlede slegs ‘n paar weke in ‘n jaar hoog, maar deesdae is die tellings vir langer tye hoër, en mense sukkel skielik maande aaneen met allergiese simptome sê Thulja.
“Waar ‘n pasiënt in die verlede dalk ‘n paar weke lank ‘n vinnige seisoenale hooikoors gehad het, kan dit nou maande aanhou,” beaam dr. Marinda McDonald van die Allergy Clinic in Randburg, Johannesburg.
Sy sê die klimaatskrisis speel beslis ‘n rol hierin, want die hoër temperature en meer koolstofdioksied in die lug verhoog stuifmeelproduksie.
“Die tydsduur van hoë boomstuifmeeltellings in Johannesburg was in die 1990’s veel korter en het ongeveer twee tot vier weke in die lente geduur. Verlede jaar was dit nader aan drie maande,” sê sy.
Daarmee saam sien sy dat allergiesimptome ook intenser raak en langer aanhou.
Dr. Adrian Morris van die Allergy Clinic in Nuweland, Kaapstad, sê nuwe soorte stuifmeel raak ook ‘n probleem.
“Iets soos alsemambrosia (ook soms hooikoorsbossie genoem), wat erge allergiese reaksies in Amerika veroorsaak, kom nou ook hier voor,” verduidelik hy.
Stuifmeel van dié plant, wat veral in ‘n subtropiese klimaat aard, is aan die begin van die jaar die eerste keer in Durban deur die sporevangtoestel opgemerk
Jonny sê dié stuifmeel, wat baie lig is en honderde kilometers ver op die wind kan versprei, het moontlik saam met vragskepe wat voedselgewasse vervoer hier aangeland.
“Ons sien dit plek-plek in die noordelike provinsies van die land, maar ons vermoed dat dit, soos die klimaat verander, later jare ál meer suid gaan beweeg,” sê Jonny.
‘Donderstorm-asma’
Die verskynsel van sogenaamde ‘donderstorm-asma’ gebeur wanneer daar ‘n hoë stuifmeeltelling is en terselfdertyd ‘n groot storm losbars.
Gevalle hiervan is in Melbourne, Australië, aangeteken, sê Marinda, maar dit kom ál meer op verskillende plekke in die wêreld voor. Thulja verduidelik uiterste weerstoestande soos kwaai wind en reën breek stuifmeelkorrels in kleiner stukkies op, wat selfs skadeliker vir mense kan wees omdat die piepklein stukkies maklik ingeasem word.
“Dit dring dieper in jou lugweg in,” sê Marinda.
“Boonop word die klein stukkies stuifmeel tydens verdamping in water opgeneem, en wanneer dit daarna reën, is dit nie net water nie, ook stuifmeel, wat reën.”
Hierdie toestande kan lei tot allergiese asma, ‘n soort asma wat deur jou omgewing veroorsaak word.
“Dit kan ‘n hoes wees, dikwels in die nag of vroeë oggendure, kortasemheid en fluitbors,” sê Marinda.
Huisstofmiet
Nog iets waarvoor baie mense allergies is, is huisstofmiet, sê Adrian. En nee, huisstofmiet beteken nié jou huis is net stowwerig nie – stofmiete is eintlik mikroskopies klein insekte, sê Thulja.
Hulle kom in matte en beddegoed voor. Ons asem hul afskeidings in, wat proteïene bevat.
Dit kan allergieë soos asma of ekseem veroorsaak, sê Adrian. Volgens hom het die klimaatskrisis en spesifiek stygende temperature ook ‘n impak op dié klein gediertes
“Wanneer dit warmer raak, teel hulle veel vinniger aan.”
Hoe gemaak met ‘n allergie?
Is dit ‘n allergie of virale infeksie?
As jy agterkom jy raak elke jaar op ‘n spesifieke tyd siek, kan dit ‘n allergie wees wat jou siekte veroorsaak, sê die Johannesburgse allergiespesialis dr. Thulja Trikamjee.
“‘n Loopneus wat net sowat 10 tot 14 dae duur, is gewoonlik ‘n virale infeksie. Maar as jy agterkom jy sukkel maande aaneen daarmee, of dit gebeur elke jaar op dieselfde tyd, is dit ‘n gevaarlig” sê sy.
Wanneer ‘n mens allergies is vir iets in die omgewing, soos stuifmeel of huisstofmiet, kry jy allergiese rinitis, verduidelik dr. Marinda McDonald van Johannesburg.
Simptome van dié toestand is onder meer jeukerige oë, neus en verhemelte, ‘n loopneus, postnasale drup en die sensasie van ‘n toe neus.
Hoe kan jy toets daarvoor?
As jy vermoed jy is allergies vir iets, moet jy ‘n akkurate allergietoets deur ‘n allergis of algemene praktisyn laat doen, sê Marinda. Dit is ‘n velpriktoets. ‘n Druppel allergeen word op die pasiënt se arm geplaas en dan word ‘n krapmerkie op die vel gemaak om te kyk hoe die pasiënt reageer, verduidelik sy.
As iemand allergies is vir die betrokke stof, raak die vel waar die krappie gemaak is gewoonlik rooi, verhewe of jeukerig. So kan medici vasstel of iemand allergies is vir onder meer kat- of hondehare, verskillende soorte stuifmeel en verskillende soorte muf.
Dit is beter om jouself te laat toets, anders gaan jy net aanhou raai waarvoor jy allergies is, sê die allergiedokter Adrian Morris.
Hoe kan jy dit bestuur?
Daar is baie maniere waarop allergieë behandel en bestuur kan word, afhangend van wat die oorsaak is. En al word allergieë deur die klimaatskrisis beïnvloed, bly die behandeling onveranderd, sê Marinda.
“Dit beteken bloot jou simptome kan erger wees en ‘n langer tydperk aanhou. En dat mense wat voorheen ‘n mate van weerstand gehad het dalk nou meer simptomaties kan word as gevolg van verhoogde stuifmeeltellings”
Adrian sê die eerste stap is om dít waarvoor jy allergies is te probeer vermy.
“Dalk moet jy ‘n nuwe huis vir jou hond of kat soek. As stofmiete die sondaar is, moet jy jou beddegoed vervang, dit gereeld skoonmaak of geskikte kussing- of matrasbeskermers kry.
Hy sê jy kan stuifmeel-allergieë bestuur deur onnodige vensters en deure toe te hou of ‘n neussproei te gebruik.
Antihistamientablette wat oor die toonbank beskikbaar is, help met jeukerigheid, ‘n loopneus of ‘n genies.
” ‘n Dokter kan vir jou ‘n kortisoonneussproei voorskryf, maar daar is ook soorte wat jy sonder ‘n voorskrif kan bekom,” sê Adrian.
“Pasiënte met allergiese rinitis weens iets wat heeljaar ‘n probleem is, soos huisstofmiete of gras, moet voortdurend behandel word,” is Marinda se raad.
“Sodra jy met behandeling ophou, kom die simptome terug. Dis belangrik om aan te hou, want dit voorkom ander komplikasies, soos sinusitis, wat ‘n infeksie van die sinus is.”
Volgens Thulja kan sommige allergieë met immunoterapie behandel word.
Dié behandeling word in die vorm van druppels onder die tong of inspuitings toegedien.
“Ons gee vir jou klein hoeveelhede van dit waarvoor jy allergies is sodat jou liggaam beskermende teenliggaampies kan opbou sodat jy later nie meer allergies is nie,” verduidelik Marinda.
- Dié artikel het in die Huisgenoot van 7 Mei 2020 verskyn.